Op 29 Maart 2018 is die eerste groep van 56 bulkalwers en 49 verskalwers van ons eie aanteel direk ná speen in ons Fase C toetsstasie op Whitfield in die Theunissen distrik getoets. Tans toets ons 12 groepe diere jaarliks waarvan die helfte manlik en die ander helfte vroulik is.
Om te meet is om te weet.
By Leeuwbult Bonsmara is Fase C getoetste diere die grondslag van ons jaarlikse aanbod. Fase C inligting help ons om die paringsprogram, Gene Pro, meer effektief te gebruik. Ons teel uitkomste (die kudde nageslag se genetiese voorspelling) is akkuraat omdat ons seleksie besluite kan neem gebaseer op die akkurate teelwaardes.
Ons skakel swak presteerders ten opsigte van groei eienskappe en vrugbaarheid (dek gereed op 12-14maande) op ‘n jong ouderdom reeds uit en maksimaliseer kudde doeltreffendheid. Dit help ons ook om top bulle te identifiseer uit ons eie aanteel wat ons in die kudde gebruik om vinniger geneties te vorder teen ‘n baie bekostigbare prys.
Tydens Fase C groei toetse word daar ook druk op ander eienskappe geplaas soos bv. kloue waarvan tekortkominge vinnig bloot gelê word indien wel teenwoordig. Uit ons ses jaar data afkomstig vanaf ons Fase C groei toetse sien ons eerstehands hoe die diere wat goed presteer het tydens hul Fase C toets hierdie resultate gestand doen op die veld, en ook makliker aanpas op die veld in vergelyking met die swakker presteerders. Saam met ons seleksie proses wat sterk druk plaas op aanpasbaarheid en vrugbaarheid, bly diere in balans met hul produksie omgewing.
Alle diere wat Fase C getoets word ondergaan ook die myostatien mutasie toets aan die begin van die Fase C groei toets . Teen die tyd wat die groei toets resultate beskikbaar is, is elke dier se myostatien status ook bekend. Eers nadat hierdie twee resultate bekend is, vind keuring plaas ten opsigte van visuele, funksionele en fenotipiese voorkoms en prestasie toets data.
Ons streef na diere wat hoë punte behaal ten opsigte van die visuele en funksionele keuringsproses, asook vrugbaarheid en aanpasbaarheid en top presteerders is in die Fase C groei toets. Ons einddoel is om vir kopers Bonsmaras aan te bied wat ‘n wesenlike impak op produksie in hul kudde sal maak.
Gebruik die data om die beste besluit vir jou kudde te neem.
Uit ‘n koper se oogpunt is dit uiters belangrik om te weet waarna jy op soek is, en om te weet dat dit wat jy koop bewese is en inderdaad gaan presteer soos wat die teelwaardes te kenne gee. Fase C groei toetse maak die groei teelwaardes se akkuraatheid hoër. Hoe meer diere verwant is aan die betrokke dier wat getoets word en self ook Fase C getoets is, hoe meer akkuraat is die betrokke dier se teelwaardes ten opsigte van groei. Hoe akkurater die teelwaardes, hoe groter is die waarskynlikheid op sukses mits die regte seleksie besluite geneem word.
Die Leeuwbult kudde se teelwaarde akkuraatheid is hoog weens die feit dat alle aanteel van beide geslagte wat in die kudde opgeneem word, Fase C getoets is. Die diere op aanbod by ons jaarlikse produksieveiling word dus met vertroue en ‘n hoë verwagting aangebied vir die stoet, sowel as die kommersiële koper.
Langtermyn belegging.
Hierdie Fase C fasiliteit is ‘n langtermyn belegging wat ons eie volhoubaarheid asook dié van ons getroue kliënte verseker wat jaarliks aankope doen by die produksieveiling. Ons sien uit om alle vorige en nuwe kopers by ons 6de Produksieveiling op Donderdag 20 Junie, 2024 te verwelkom.
Vir enige navrae, kontak gerus vir Izak Cronjé by 083 627 8397, of vul die onderstaande kontakvorm in.
Fase C Toetsing by Leeuwbult Bonsmara Bring vir Kopers Gemoedsrus.