Leeuwbult Bonsmara | Theunissen | Veiling: 18 Junie 2026
Hallo almal,
Die 18de Junie kruip al hoe nader en ons is lekker besig hier op Whitfield. Van screening, tot foto's neem, lotplasings en spyskaartbeplanning. Elke jaar gedurende hierdie tyd loop ons deur die bulle en vra onsself dieselfde eerlike vraag: "As ons die koper was, watter een sou ons huis toe wou vat?"
As daar een ding is wat die afgelope paar jaar ons geleer het in die Bonsmara bedryf is dit die volgende: Die bul moet altyd vir homself praat. Ons werk is net om die diere te bemark tot die beste van ons vermoë, en dan los ons dit aan julle om self te besluit. So hier is vier lotte waarna ons aanhou terugkom. Nie die enigste goeie bulle op die veiling nie, let wel, maar vier waarby ons graag ons eie naam sal sit.
Lot 1 — IC23-541: Bouvorm Bouvorm Bouvorm
As jy na hom kyk, sien jy sterk manlike eienskappe, 'n breë bek, 'n goeie toplyn, en daardie "easy fleshed"-voorkoms wat vir jou sê hy gaan gras in kilogramme omsit sonder moeite. Sy lengte-tot-hoogte verhouding staan op 1.21, wat ons goed vind, en volgens ons eie Leeuwbult standaarde is hy 'n 5-ster bul.
Die syfers ondersteun wat die oog sien:
- Karkaswaarde117
- Geboortegemak108
- Groeiwaarde119
- Speenkalfwaarde105
Sy familie stamboom is merkwaardig. Sy pa is IC18-107, die NAMPO bul, en 'n bul wat homself al deur-en-deur in ons kudde bewys het. Sy oupa is 'n Sernick platinum bul (NFS15-069), en sy moederlyn dra sterk "Op die Aarde" (VV) genetika.
Vir ons is hierdie bul se waarde eenvoudig: hy bring goeie bouvorm en karkas in jou kudde in, met groei voor én na speen, en sonder kalwingsprobleme. Daardie laaste deel maak saak want groei ten koste van kalwingsgemak kan lei tot 'n groot gesukkel as dit kalf tyd is. Hierdie bul is gebalanseerd en laat jou nie kies tussen hierdie belangrike einskappe nie.
Lot 3 — IC23-501: Die Curve Bender
Hierdie een het ons darem 'n bynaam gegee, want die syfers vra eerlikwaar daarvoor.
'n "Curve bender" in ons wêreld is 'n bul wat sterk groei én goeie bespiering én maklike kalwing, alles op een slag bied. Die meeste bulle gee jou twee uit drie. Hierdie een gee jou al drie:
- GDT indeks117
- VOV indeks114
- Geboortegemak103
- Groeiwaarde124
- Lanklewendheid107
- Vrugbaarheid108
Fenotipies het hy besonderse lengte van lyf, goeie diepte, en hy's funksioneel korrek op sy voete. Hy trap mooi op sy kloue. Iets wat ononderhandelbaar vir ons is want 'n bul werk mos heeldag op sy kloue.
Sy familie is een wat ons goed ken. Sy pa is IC18-107 (die NAMPO bul weer — ja, hy verskyn twee keer op ons top lys as vaar, en daar's 'n rede daarvoor). Sy oupa is dieselfde Sernick platinum bul, NFS15-069. Sy ma, VV15-377, is bekend daarvoor om kalwers te lewer met regtig goeie bouvorm, en ons het IC23-501 se half-broer aan moederskant, IC18-019 in ons eie kudde aan die werk gesteek. Die genetika spreek dus vanself!
As jy soek na 'n bul om jou hoof kuddevaar te wees en wat vir jou swaarder speenkalwers gaan gee sonder kalwingsprobleme is hierdie jou man. Sy kalwers manlik en vroulik sal nog lank vir jou kan werk in jou kudde. Hy het nie verniet 'n lanklewendheid syfer van 107 nie.
Lot 5 — IC23-593: Die Female Maker
Hierdie is die een waarvan ons aanhou vir mense vertel as hulle ons vra, "Watter bul moet ek gebruik as ek my koeikudde wil bou?"
By Leeuwbult sê ons: die koeie maak die geld. Vroulike diere is die fondasie van enige winsgewende kudde. En hoe beter daardie fondasie is hoe beter lyk jou winslyn. Enige boer soek vroulike diere wat vinnig vat, nie seisoene oorslaan nie en mooi na haar kalwers kyk sonder om uitgemergel te raak. En om sulke goeie koeie/verse te bou, het jy 'n bul nodig wat goeie dogters gee.
Hierdie bul is presies daarvoor gebou:
- Vrugbaarheidswaarde121
- Vers vrugbaarheid EBV117
- Koei vrugbaarheid EBV118
- Koei waarde111
- VOV113
- Geboortegemak102
Kyk na hom en jy sien diepte, kapasiteit, 'n sterk kop, en hy trap mooi op sy kloue. Sy pa, IC 17-843, is 'n bul wat sy kondisie uitstekend op die veld hou. En daardie eienskap, daardie vermoë om kondisie te behou sonder om bederf te word, is een van die dinge wat ons die meeste in hierdie bloedlyn waardeer.
As jy vervangingsverse wil teel, of jy wil die fondasie lê van 'n winsgewende kudde wat oor tien jaar nog gaan staan, is dit die bul wat ons aanbeveel. The female maker is regtig the money maker.
Lot 8 — IC23-759: Die Meat Machine
Die fenotipe vertel die storie van 'n Meat Machine: 'n goeie toplyn, 'n ideale lengte-tot-hoogte verhouding van 1.27, besonderse lengte van lyf, en 'n sterk manlike kop.
Die syfers:
- Groeiwaarde124
- Karkaswaarde118
- Vrugbaarheid112
- Lanklewendheid115
Waarvan ons hou, is dat hy nie vrugbaarheid prysgee vir groei nie, en hy gee nie lanklewendheid prys vir karkas nie. Sy pa IC 21-001 is nog een van daardie bulle wat sy kondisie uitstekend op die veld hou, en sy ma FUZ 20-022 het 'n TKP van 371.
As jy 'n kommersiële teler is en jou doel is swaar speenkalwers en meer geld in jou sak, is dit jou bul. Hierdie bul is ook perfek vir stoettelers om 'n kudde vaar te wees.
'n Paar Eerlike Woorde Voor die Veiling
Ons glo nie in oorverkoop nie. Die bulle moet self praat op veilingdag, en jy, die koper, sal beter weet as ons wat by jou kudde, jou veld, en jou boerdery doelwitte pas.
Maar wat ons kan belowe, is dit: elke bul wat ons aanbied op die veiling is geteel met een doelwit voor oë, kwaliteit. Ons teel die bulle soos wat ons hulle self sou wou koop.
As jy enige navrae het oor hierdie 4 lotte of selfs van ons ander bul lotte en vroulike diere. Stuur vir ons 'n whatsapp/e-pos of bel ons. Ons deur staan altyd oop.
Izak Cronje — 083 627 8397
George Cronje — 082 800 7983
leeuwbultbonsmaras@gmail.com
izak@jicbdy.co.za
pgc@010628@gmail.com
Dankie dat jy die tyd gevat het om hierdie blog te lees. Ons sien uit om jou op 18 Junie 2026 te sien.
Izak & George Cronje
Leeuwbult Bonsmara



